Monday 11 April 2011

Net n bietjie alleen

My eie asem boomerang teen my oor
Die gedruis van my denke belemmer my visie
Net n bietjie alleen sonder n gehoor
My polslag en my hart maak onskuldig rusie

My gedagtes kry kans om n droom te bou
Wyl ek voelers uitstrek om stilte te vang
Maak my siel reg om hard aan realiteit te kou
En drup drup lewe opdraend teen my wang

My eie stem klink sterk en vol van self
So klankhelder ek wil nie ophou luister
Maar vir die stem moet ek deesdae dieper delf
Gelukkig steeds altyd daar aldan net n fluister

Ek en ek maak my onbeskryflik gelukkig
As ek asem, oë toe, stem gestol gedagtes dwaal
My binnenskopse humor is partykeer so pittig
Vertel ek vir almal in my eie denkende taal.

Soms moet ek net bietjie alleen wees
Die ritueel van hart-en-siel-word-een moet begin
Asem bou my en die swart word sig deur gees
En vir daardie oomblik maak alles nog minder sin.


No comments:

Post a Comment