Monday 5 December 2011

Hoe kon jy?

Jy’t my sonder plan en vol van smart in die lewe in gebring
Jy’t my nooit gedruk, gesoen of vir my aan die slaap gesing
Hoe kon jy my so leeg laat slaap, hoe kon jy vir my trane staar?
hoe kon jy verder gaan en nog kinders sonder liefde baar?


jy het my rondgeskuif van huis tot huis, van pa tot pa
jy het toegelaat dat ek sien hoe slaan nog ñ man my ma
hoe kon jy my op laat sit, hoe kon jy dronk word en my alleen laat bid?
hoe kon jy nie sien wat jou man’s doen aan jou kind?


jy het self verander van ma na niks, voor mense in ñ ander gewaad
jy het my gehaat vir elke dag maar ek het jou steeds lief gehad
hoe kon jy kinderliefde verwerp, hoe kon jy miskyk elke merk?
hoe kon jy dink eks oud genoeg, hoe kon jy dink ek is so sterk?


jy het gevat wat hulle aan jou doen, dit omgedraai aan my gedoen
jy het gevloek, gegil, gedrink, geslaan, jou dade bly steeds onversoen
hoe kon jy my jou swakheid laat sien, hoe kon jy dink ek’t dieselfde verdien?
hoe kon jy dink dis gesond en reg en moederlike aksies die?


Jy het jou oorgegee aan drank en meer, vergeet van my
Jy het ineengestort en my agtergelaat, gevlug, net so weggery
hoe kon jy my in die kar laat sit, hoe kon jy my probeer saam sleep?
hoe kon jy my slaan vir iets wat aan jou gewete vreet?


dis reg, dis klaar, niemand kan iets hiervan maak
jy het my groei gestop, my hart laat kalk
jy het geen idee wat jou lewe gedoen het
aan ñ kind wat moes grootword in ñ vreemde bed


dis reg, dis klaar, daar is niks meer te sê
maar ñ laaste vraag wil ek voor jou lê


dis ek jou seun, in bloed en siel is ons een
so hoe kon jy?

Shaun StoltZ